Archive for Maart, 2010

Syfervoodoo en holbewoners

Dis goed om terug te wees in Holland. Opeens herontdek ek die magiese kragte van double digits. Soos 14. Vandag is 14 grade en Holland word omtower. Mense vat smoke breaks in t-shirts. Fietsgetalle verdubbel. Vissermanne hang uit op die kanaalwalle voor ons huis en sokkerspelers jaag ure lank ‘n bal buite rond. Miniatuur daffodille pop op langs die asblik. Alles toordinge wat slegs realiseer bo 9 grade.

Dan’s daar die magical nuwe tv. Ons Harry Potter koerant boks. Waar prentjies beweeg en vreemde wêrelde vasgevang en uitgestal word.

Dis awesome om die hele naweek op die couch te lounge. En noodsaaklik, oortuig ek myself. My skamele Nederlandse vaardighede het ‘n serieuse knak weg na 5 weke in SA. Het dit vinnig agtergekom toe ek die eerste dag terug moes gaan vir ‘n mediese ondersoek. Ek het die dokter gevra of die goeters wat hy verwyder het nou vir toetse moet gaan. Hy kon nie ophou kop skud en glimlag nie.

So tv kyk vir educational purposes: Die Engelse movie gisteraand mention “cave dwellers”. Die Nederlandse vertaling lees “holbewoners”. ‘n Chick is ‘n “griet”. ‘n Idioot – ‘n lul.

Het die woord “Holland” iets te doen met “holbewoners”? Beteken die frase “grote griet” dus “voluptuous chick”? Hoe dit ookal sy, hierdie Afrikaanse lul is terug om Nederlands heeltemal te korrupteer.

Bolle kleur

Haal asem. Haal asem. Haal asem.

Twee vriende is dood in twee weke. Die pyn is oorweldigend. Daar is geen antwoorde nie en daar sal nooit wees nie.

Terug in Suid Afrika om dinge te reel. Lewenslyne te sny. In te kort. Skielik moet besluite geneem word wat jare lank afgestel is. Hoe raak mens so verstrengel in die lewe? In beloftes aan banke?

Die foonoproepe wankel tussen bribery en dreigemente. Maar tog is daar die vryheid om te kan baklei in my taal. In Nederland vermy ek konfrontasie want my woede en frustrasie word misverstaan. My taal is grappig. Lief. Kinderlik. Hier in SA praat ek die taal van die land. Daar is geen misverstand nie. Hier word ek verstaan.

Tog mis ek my aanneemland. J vertel die bolle het deur die swart grond begin beur. Ontploffings kleur. Smartie landmyne. Ek mis die sneaky son wat elke dag se vars sneeu smelt. Wat ‘n spierwit oggend verander in ‘n grasgroen middag. Ek mis J.

Ek weet nie hoe die pad vorentoe lyk nie. ‘n Pad wat jy stap verander in ‘n foonoproep. Ek hoop mense lag weer en hoop weer. Ek lag al maar dan kom die skuld. Hoe kan mens lag as alles verander het? Dis die ergste – die skuld gevoel oor die mooiste dinge.