Archive for Julie, 2009

Suid-Afrika Winkel in Amersfoort

Laas naweek kon ons net nie meer uithou nie.  Toe spring ons in die kar en jaag Amersfoort toe, seker so half uurtjie se ry. Die mission was bedrieglik maklik. Vind die winkel, koop die biltong en snol voor ‘n boeretraantjie stort van verlange. Makliker gese as gedaan.

Die winkel is in ‘n industriele area van Amersfoort. Van ver af kon ons Nicolaas Louw (of een van hulle) hoor. Binne die winkel is ‘n koffietafel met ‘n stapel ou Huisgenote. Ook ‘n verdwaalde Sarie met suf ore.  Rakke vol atchar en Ms. Balls. Robinson Spices en Wilsons toffies. Ghost Pops en Simba chips.

Die winkel was bespat met ‘n paar groepe Afrikaners wat net so lekker verward gelyk het soos ons. Die mense wat die winkel bestuur is Kaapse Afrikaners wat al 11 jaar hier bly. Hulle het lekker in hulle t-shirts gestaan en lag vir ons twee lae klere getop met ‘n reenjassie. Ons “look” vir somer 2009.

Maar terug na die winkel: ‘n Plaasdam na ‘n hike in die dorre Karoo. Ons het biltong en droewors gekoop. Ook ‘n sakkie met gevriesde boerewors, wat gisteraand braaf op die nuwe Kadak gesneuwel het. Liplekker.  Tip van die dag: Heinz ketchup proe nes All Gold as jy ‘n paar slukkies agter die blad het. Mens proe nie eers die verskil nie ne.

Ek het ook ‘n blikkie Schweppes Sparkling Granadilla gekoop. Man! Wat ‘n fantastiese reuk! Vir lank nog aan die blikkie gesniff tot al die neusflavour klaar was.

Dis alles cliches – die dinge wat mens mis. Maar mens mis dit en dis nou maar wors.

Advertisements

Musiek en gatskud

Het die laaste paar weke ‘n paar awesome concerts gaan kyk – Twee weke terug was dit Gogol Bordello in Utrecht – die konings van Gypsy trash. Die website van die plek waar hulle gespeel het het trots gedreig dat die strate van Utrecht gaan vloei met bloed en vodka. Blote marketing. Toe glad nie so erg nie, maar dubbel die pret. Hulle is tight en manies mal. Vlymskerp dementia. Pragtige chaos.

Daarna was dit My Dying Bride – hulle nog nooit hoor speel nie, maar soos Joe hulle beskryf – dis daardie musiek wat hy in die Nissan gespeel het net voordat almal hom vra om dit aftesit. Loud, stadig, pronounced, asof hulle iets belangrik op die hart het. Bietjie soos ou NG kerk dominess maar met donker intensies. Het die stad Eindhoven baie geniet, en kon die volgende dag gou ‘n moderne kuns uitstalling deurwerk. Awesome art ervaar – want dis nie net van sien nie. Dis van voel in jou innerlike wese.

En toe laasweek was dit NIN. Volgens Meneer Reznor hulle heel laaste toer. Die t-shirt se druk proclaim: The Last Wave goodbye. Snik. Maar erg geskok oor hoe meneer trendy daarna uitsien – hy lyk soos ‘n 40-something gym bunny. Klein, gespiert. Kort hare. Die tiepe wat jou in Shaft sou donner omdat jy lang hare het. Maar hy is nogal ‘n talentvolle knaap – het gehop tussen keyboards en ghitaar en allerhande elektroniese gadgets. En die show was ‘n lig en strobing spectacular.

Musiek konserte in Nederland is heel anders as in SA. Soos NIN wat op ‘n Woensdagaand was. En Gogol Bordello op ‘n Dinsdagaand. Die main show word byvoorbeeld geadverteer vir 9 uur en begin nie ‘n minuut laat nie. Buite is dit nog sonlig as jy in die donker underbelly van die “I-am-so-evil” instap. Binne is daar waarskuwings dat die show erge strobes bevat – so as jy lus het van stuipe kry bly buite. Rook is orals verbode en groot signs verbied stage jumping. Almal is rustig en sober en op hulle plek. Met die gevolg dat jy 11 uur die aand die trein in die skemer huis toe vat en die volgende oggend fris en vars by die werk aankom.

MAAAAAAAARRRRRRRRRRR….dan’s daar Wacken. Oor drie weke sit ons in die grootste heavy metal festival op aarde. Joe het besluit ons gaan 70 000 metalheads join in Duitsland vir 4 dae van waansin. Oi joi joi joi joi…

Die line-up lees soos die horror section in jou videowinkel: Bullet for my Valentine, In Flames, Machine Head, Motorhead, Anthraz, Thin Lizzy, Tristania, Napalm Death. En dan is daar die mandatory oil en WWF wrestling. My survival kit bevat oorpluisies, slaappille, kalmeerpille en twee bottels whiskey. Joe s’n bevat ‘n bottel Jack.