Treasure Island for real

Mense sê die dude wat Treasure Island geskryf het het die storie gebasseer op die Cubaanse eiland Isla de la Juventud. Ek dink hulle is reg. Vir honderde jare was die eiland die skuilplek van seerowers en vlugtelinge. Vandag is die eiland steeds amper vergete.

Dus die perfekte plek om te gaan explore. As mens daar kan uitkom.

Die vliegrit soontoe was iets anders. Sewe uur die oggend strompel ons deur die domestic terminaal in Havana op soek na ons tuig. En soek moet mens soek, want op domestic is alles in Spaans.

En soos dit enige behoorlike adventure betaam geluk dit ons om optestyg op die koudste, winderigste en miserable-ste dag wat Cuba in die laaste 30 jaar gesien het. Dit was die dag wat die aardbewings Cuba se buurman, Haiti, getref het.

Met onweer in die lug en onmin in my derms het ons die vliegtuigie beklim. Die reuk van ou puke in die gang het nie gehelp nie.

Op die beste van tye is ek nie ‘n gemoedelike vlieger nie. Na ‘n besondere turbulente Khulula vlug ‘n paar jaar gelede (waar die lugwaardinne my kom vra het om minder hard te huil) het ek myself belowe ek vlieg NOOIT weer nie.

Maar omdat ons nou te-moer-in-gone bly vlieg ek meer gereeld en raak die witkneukelvrees minder.  J is ook so rustig, mens voel half simpel om langs hom histeries te raak.  En toe ons eers in die lug was, en ek begin rondkyk, het ek besef die vliegtuig se binnekant lyk presies soos my ou laerskool skoolbus! Toe voel ek sommer beter en heeltemal tuis. Het selfs daaraan gedink om te kyk of die kougom onder my seat nog flavour het.

So al was die vlug shaky en turbulent en al die res, was dit nie so erg nie. Want in my mind was ek in die bus oppad huis toe met Doris se snackwiches wat vir my wag.

Die eiland self is heeltemal verwyderd van die Cuban toeriste siklus / sirkus. Die enigste toeriste wat dit so ver Suid waag is duikers. Want hier is awesome korale en stuff wat swem vertel hulle my.

Ek self het nie geduik nie. Ek het ge-lounge. Alleen op die mooiste beach in die hele wêreld.

Waar enorm, perfekte skulpe op die strand lê en fluister vir die see.

Ons het so paar dae gebly. J kon ‘n paar plonsies maak, en ek kon myself vervreet aan fried chicken met bone en rys. (Ek het toe nog nie geweet dis al wat ooit op die menu in Cuba is nie).

En ja, dit is die einste plek waar duisende Angolese studente (ek dink ook ANC uitgewekenes) in die tyd van die Rooi Gevaar studeer het. Hulle kon ‘n gratis Kommunistiese universiteits-opleiding ontvang as hulle bereid was om in die lemoen-boorde te werk. ‘n Tiepe kibboets stelsel. Vandaar die naam van die eiland: Isla de la Juventud – Die eiland van die Jeug.

Wonder waar is al die comrades vandag? Die boorde lyk bietjie oes en het ‘n snoei nodig.

Cuba, Havana.

Weet nie van jou nie, maar ek het nog nooit ‘n regte kommunis gesien nie. En toe gaan ons Cuba toe.

Deurmekaar en over exposed het ons die aand op Havana lughawe aangekom. Die rit na die hotel was mal – tipies taxi-mal soos mens net in die derde wêreld kry. Na ‘n vinnige onderonsie met die hotel mense (nie geweet mens mag nie toiletpapier flush nie), het ons die strate geslat vir ons eerste shot Havana.

Die Havana locals noem hulleself Habaneros. En hulle is nogal pittig. Luid en vriendelik met baie soentjies en skouer drukkies vir mekaar. Die stad self is ook awesome. Eeue oue geboue lovingly gerestoreerd vir die benefit van die toeriste. Want vandag is Cuba se grootste geldmaker nie Che posters of suikkerriet nie, maar toerisme.

Een van die pragtige pleine in Havana - perfek gerestoreerd van voor, met die geboue agter wat inmekaar tuimel.

Maar dit was nie altyd so nie. Na die val van die USSR in die laat 80’s het Cuba deur ‘n “spesiale tydperk” gegaan. Eensklaps het hulle oliepyplyn uit Rusland opgedroog, so ook die geld en ontwikkeling wat deur hulle buddies voorsien was. Alles het gestop. Binne ‘n paar weke het die hele land letterlik tot stilstand gekom.

Die Castro reaksie was tipies: Sluit die grense, blameer Amerika en gee meer rum. Mense praat vandag nog oor ‘n tipiese ontbyt in daardie dae: Suiker opgelos in water.

Die deursnit Cubaan het een derde van sy liggaamsmassa verloor. Maar hulle het dit gemaak.  En opgemaak since then as mens kyk na die welige heupe…

Die gevolge van die spesiale periode was divers. Volgens die WWF is Cuba is een van die mees sustainable lande op aarde omdat hulle nie meer so afhanklik van petrol en diesel is nie (http://www.ecosherpa.com/news/cuba-only-country-with-sustainable-development/).

Maar ongelukkig het die groei in toerisme wat hulle gat gered het in die “spesiale tyd” ‘n tweede ekonomie gekweek wat ongelooflike stratifikasie veroorsaak. En dit in ‘n “klaslose” samelewing.

Daar is twee geld eenhede in Cuba: Een vir toeriste (covertables of CUC) en een vir die plaaslike bevolking (peso’s). Daar is 24 peso’s in een convertable. En dis nie verregaande om te sê dat meneer toerist 24 keer soveel betaal vir iets as plaaslike jaap nie.

Alle mense kry ‘n plek om te bly, gratis onderrig en gratis mediese sorg. Almal kry ‘n rantsoen basisgoedere maandeliks van 3 kilogram rys, 3 kilo’s suiker, 6 eiers, 7 brode, 115 gram koffie, 1.5 kilo gedroogde ertjies en 230 gram soja. Ook ‘n streep seep vir wasgoed en menswas. Vleis moet jy self koop en melk is slegs vir kinders.

Almal verdien om en by dieselfde (in dollar waarde at least): van die dokter tot die onderwyser tot die busdrywer kry die government vasgestelde salaris van tussen $20 en $30 (US) per maand. Almal kry dieselfde, want almal is mos gelyk.

Maar met die toeriste ekonomie maak ‘n bedelaar in Havana meer in ‘n dag as ‘n dokter in ‘n maand. Almal scramble om CUC Convertables in die hande te kry, so mens word nogal gepla op straat (meer as by byvoorbeeld ‘n Centurion robot, maar minder as by Grayston offramp).

Ook binne hotelle en ander toeriste hang-outs word vele interessante planne bedink vir die maak van ‘n fooitjie.

Handdoek origami in ruil vir 'n elusive CUC

Maar Havana is so charming en weird mens vergeet vinnig van jou middelklas hang-ups. Veral na die eerste mojito. Daar is rum in alles op die drinksmenu, selfs in die (mint en rum) don pedro’s.

As jou mojito baie muggies bevat is jy sharp - want dan is die mint nie in Havana water gewas nie

Maar steeds is Havana kuier harde werk. Ver loop deur Libanon-esque strate, brandmaer honde en blêrende musiek uit elke gebou. Ook bittermooi geboue in style wat herhinner aan Cuba se verre verlede. Van Spanjaarde, Engelse en Hollanders, seerowers en skatte, suikkerbaronne en Afrikane wat almal op een of ander tyd Cuba hulle huis genoem het. En saam geplant het aan die nuwe nasie.

Volgende update: Isla de  la Juventud – die oorspronklike “Treasure Island”, en die leerskool vir duisende van ons rooi-minded Angola bure.

Sneeu

Wow! Winter is hier: Skielik oornag ingesluip en die hele Nederland onder ‘n sneeukombers toegetrek. Wat ‘n freaky experience. Van die snaakse blaf-klanke van die sneeu wat kompakteer onder jou voete. Tot die normaalgesproke teruggetrokke Hollanders se uitbundigheid as hulle hul honde en kinders rondjaag in die sneeu.

Die park voor ons huis

Forward Motion deur 30 sentimeter dikke sneeu is ‘n heeltemal nuwe ondervinding. Kanttoe gly – geen probleem. Maar vorentoe met ‘n mate van dignity – nie so maklik nie. Eers die fietse probeer, en dis seker doenbaar…maar since ek nog nie verskriklik goed ry nie is ek maar ‘n pissy as dit kom by twee groot wiele wat vinniger as menslik-bedoeld is deur die sneeu skiet. Toe die kar probeer, maar om teen 40 km ‘n uur te briek en eers 3 meter later tot stilstand te kom is nie goed vir die poepstring nie. Busse: Regelmatige busdienste word opgeskort as dit so baie en so skielik sneeu. Elkgeval, om in minus 9  te wag vir ‘n bus wat miskien nie kom nie is nie meer snaaks na 30 minute van ewigheid nie. So toe stap ons maar.

Die 20 minute se stap na die local blues bar was ‘n huge ondervinding. Joe was so uitgelate dat hy sommer in die sneeu gaan lê het met een of ander obskure reference na ‘n Volucre-tradisie.

Lekker nat né

Miskien was daar method agter die madness met die clichéd creation van ‘n sneeu-engel.

Die sneeu is jou crack se grootste vyand

Hoe dit ookal sy – ons het soos kinders aangegaan. Joe het selfs ‘n sneeubal-fight met die local rotjonges gepick, maar gelukkig was hulle volwasse genoeg om nie te reageer nie. Miskien het hulle die maniese Charles Manson-blik in sy oë gesien. Of miskien was dit die size van sy sneeuballe.

Zuursak en Bojo

Ek dink dis ‘n fabulous naam vir ‘n TV-show. “Zuurzak en Bojo”. Iets soos “Bonnie en Clyde” of “Tweedledee en Tweedledumb”. ‘n Reeks wat gaan oor twee funny mense in ‘n funny land. Maar actually is dit was ek laas naweek vir pudding geeet het.

Zuursak is ‘n tiepe vrug wat kom uit Indonesieeee (weet ENIGE IEMAND asb die shortcuts om deelteken- en kappie-letters te tik?!). Sy regte naam is Guanabana. Hy’t so melkerige, romerige juice wat proe soos iets tussen…wel gauva en banana. Met so skeutjie passionfruit om dinge rerig juicy te maak.

Bojo aan die anderkant is ‘n koekerige ding van cassawa en kokosneut. Super weird. Nie eintlik my ding nie. Soos gister nie eintlik my dag was nie.

Alles het begin toe ek ‘n rekening van R 5700 van Tswane in my inboks kry. Finale aanmaning vir ‘n rekening wat ek nog nooit gesien het nie. Die elektrisiteit word dus 02/12 afgesny. Nou goed dan.

Daarna moes ek ‘n doek gaan verf. ‘n Banner wat na die Dominikaanse Republiek moet gaan om kinders daar te leer hoe om tande te borsel (moenie vra nie). Soontoe het ek natgereen op my fiets. Soos gewoonlik. Toe ek afklim het ek in ‘n hondedrol getrap. Soos gewoonlik. Op die doek het ek die verfpot neergesit wat onder vol verf was. So nou het die doek ‘n uiters ongewone halwerooi kol.

Na ‘n paar ure se struwelinge met die blerrie doek was dit uit by die deur na die winkel om ‘n koekroller te koop (moenie vra nie). Waar ek weer natreen (soos gewoonlik). Waarna die koekroller uit my fiets se saddlebag vlie en inrol voor die fietsryer agter my. Wat met ‘n vloek en ‘n swets uitswenk voor ‘n kar in. Wat hoot en die gevloekery voortsit. Waarna ek agter die koekroller aansit wat by die enigste semi-bult in die hele Nederland afrol. Waarna my geparkeerde fiets in die deursypte grond wegsak en die res van my groceries in ‘n waterpoel dump.

Nouja. Al wat ek kan se is dankie. Vir Chris wat Tswane kon uitsort. Vir Vital wat warm tee gemaak het. En vir Joe wat die koekroller kon oorneem om die bliksemse koekies plattefoeter wat in die bliksemse icecream koek moet gaan (moet nie vra nie).  Ander mense hou ‘n mens sane…want partykeer is die wereld heeltemal mal.

Nou’s daar stront aan de knikker

Elke dag soek ek inspirasie. En dis ‘n pyn. Ek trust nie mense wat se hulle het ‘n muse op standby nie, want myne is flighty klein boggers.  Meestal is dit nogal ‘n storie om hulle te vind en skreeuend onder die duvet uittetrek. Maar partykeer land hulle sommer in my inboks. Soos nou die dag:

Ek subscribe aan die “Dutch Word of the Day” blog (http://dwotd.web-log.nl) en elke nou en dan stuur hulle ‘n killer Hollandse uitdrukking. Soos “Stront aan de knikker”. Iets soos “nou het die k@k behoorlik die fan geslat”. En hulle voorbeelde om die uitdrukking reg te gebruik is heel oulik. Soos: “Waarom fronst Frank zijn wenkbrauwen?” – “Waarschijnlijk is er ergens stront aan de knikker…”

So jy frons nie net nie – jy frons jou wenkbroue. Belangrike inligting die. Mens moet weet watter deel om te frons as jy nou eendag op daardie punt kom.

My ander daaglikse inspirasie is my “Bol Wol” Challenge. Ek het ‘n bol wol en elke dag probeer ek iets met dit doen. Van my pogings sover sluit in om die lelike geel gogga te verberg wat voor ons huis geparkeer staan.

Of om ons kersboom nog meer pienk en kitch te maak.
Van julle wat Joe ken weet hy is nie eintlik die kersboom-tiepe nie. Veral nie die pienk en silwer kersboom-tiepe nie.
Ek dink Joe het dit reggekry om tot is sy voetsole te frons toe hy ons kersboom 2009 sien. Ek vermoed nou’s daar stront aan de knikker…

As Mohammed nie na die berg wil gaan nie…

Dan kom die berg na Mohammed!

Kliek regs en subscribe dan arrive my blog sommer in jou inboks.

My 30m2 reality

Mense vra my gereeld hoekom ek hier bly. Dis dan koud en duur en ek ken nie rerig mense nie. Ek het vanoggend 30 meter gaan stap en afgeneem wat ek sien.

Daar is ‘n veld vol herte om die draai van ons. Dis ‘n kudde met wyfies, die mannetjies lyk nes Santa se sleediere met ‘n stel verskriklik imposante horings.  Ek weet nie waar hulle mannetjie is nie. Ek dink hy is in training vir Kersfeesnag.

Langs hulle woon hierdie tweetjies…

Hulle is baie territorial. Toe hulle my sien het hulle nader geswem en erg begin blaas. Hulle like dit nie as mens hulle afneem sonder om deur hulle agent te werk nie.

Meneer Reier hang uit saam met die eende. Ek kry die idee hy is baie vain. Hy staan altyd by die kant van die water en kyk vir sy eie refleksie. Of miskien is hy net alleen. Jy weet eende is mos nie reiers nie…

Omdat hier baie water is en omdat ons eintlik maar in die platteland woon, is hier ontsettend baie lewe. Elke oggend so 8 uur kom ‘n kletterboel seemeeue om te wei op die grasperk oorkant ons.

Die seemeeu weivelde oorkant ons huis (minus die meeue)

Dis amazing. Hulle begin aan die regterkant van die grasperk en loop in ‘n lyn en pik-pik tot aan die ander kant.  Dan vlieg hulle weg. Soos klokslag oppad hawe toe vir ‘n snack van rivierkreef en vertrapte pepernote na Sinterklaas se arrival.

Sinterklaas en sy Swarte Piete

Ek het finally uitgefigure hoekom die Nederlanders so behept is met Afrika. Dis Swarte Piet! Hy bring elke jaar vir hulle presentjies!

sinterklaas2016-10-0620kasteel2000120118

Hier is dit nie Kersvader nie, maar Sinterklaas. Hy kom elke jaar uit Spanje, en hy bring vir die soet kinders presente saam. Die stout kinders vang hy en prop hulle in ‘n sak om terug te neem Spanje toe. Waar hy hulle probably opgrind om Christmas pies van te maak…

Sinterklaas kom op die stoomboot, en hierdie naweek land hy in my eige Wageningen. Ek en duisende ander jillende kinders en mammas gaan 13:00 vir hom wag op die hawe, waar die Swarte Piete mense dan met pepernote gooi. (Nie seker hoe dit nou gaan werk nie…klink vir my soos good old-fashioned SAPS riot-control).

Sinterklaas se helpers is nie elfies nie. Hulle is Swarte Piete. Party mense noem hulle sy slawe. Ander mense se “Nee nooit! Dis mos rassisties! Hulle gesigte is bloot swart omdat hulle in skoorstene moet afklim om presente te deliver!” Iedergeval, die Swarte Piete soek die soet kinders uit, en as die kind ‘n skoen uitgesit het (en natuurlik ‘n wortel vir Sinterklaas se wit perd), kry hulle presentjies. Dit gebeur op ”Sinterklaasavond”, die aand van die 5de Desember.

Sinterklaas is die basis van die “Santa Claus” figuur wat ons uit America oorgeneem het. Sinterklaas het saam met die Nederlandse immigrante na “New Amsterdam” verhuis (of New York City, soos dit vandag heet). En van daar af het hy verbaster tot die weergawe wat ons vandag ken.

Klein wereld ne? Ek vermoed hierdie naweek gaan heel pretig wees…

Daar is mense orals en hulle is nice

Laas naweek is ons Belgie toe. Ons mission – om vreemdelinge te gaan soek en onderskep.

As mens so ver van huis en haard af is doen mens vreemde dinge – soos gaan kuier vir ‘n naweek by toetale vreemdelinge. Dis iets wat ek nooit in my eie land sou doen nie. Maar desperate times call for desperate measures…en toe ek hoor van ‘n stel SA’ners net oorkant die grens kon ek my nuuskierigheid nie stuit nie. Ons moes gaan kyk.

Die aand voor die tyd het ek lekker nervous begin raak. Bietjie soos voor ‘n blind date. Se nou ons kom glad nie oor die weg nie?  Se nou ons baklei al in die kar oppad weg van die treinstasie af? Se nou se nou se nou…

Die enigste ding wat mens kan doen is om te gaan en te hoop vir die beste. Net so. En ons het defnitief die jackpot geslaan met die twee: Carla en Gary is van die niceste, sweetste, funnyste mense die kant van die ekwator. In twee dae het hulle ons Brussels, Mechelen, Antwerp en Leeuwarden gewys. En alles vertel van Belgies-wees. Wat ‘n oog-oopmaker. Ek het geding die Belge en Nederlanders sal om-en-by dieselfde wees. Maar twee meer uiteenlopende kulture kan ek myself nie voorstel nie.

Belgie 009

Dit is amazing hoeveel geesgenote daar om jou is. Mens moet hulle net vind – jy hoef nie alleen te wees nie. Party neem net bietjie meer tracking om eers op hulle spoor te kom.

Nederlands leer en klaar

Na 10 maande lank om die issue skirt het ons met taallesse begin. Want genoeg is genoeg. Ek word verstaan…kinda….maar in die “Smile-maar-eerder-vir-haar-anders-raak-sy-dalk-geweldadig” manier. MOER TOE met dit. Nou sit ek elke dag en leer die verskil tussen my heb en my hebbe’s en my kont en my bille.

Ons Nederlandse klas is soos ‘n Noag’s Ark van vreemdelinge. Daar is twee chicks uit Peru, ‘n paar uit Roemenie, ‘n handvol Duitsers en ‘n verlore Fransdametjie. Om Nederlands met ‘n stoere Duitse aksent te hoor is histeries. En Nederlands in ‘n Franse aksent! He he he he. Maar voordat ek begin giggel dink ek aan hoe ek vir hulle moet klink. Dan sluk ek maar my giggel en luister vir die juffrou.

Dis vreemd om weer te leer. Met ‘n boek en alles. Veral ‘n taal – dieselfde vrese kom plotselings weer terug. Kon myself nie glo toe ek voor die eerste les teenoor Joe uitblurt dat ek net nie die dom kind in die klas wil wees nie. Dit kom van my Zulu-dae op universiteit – waar ek Zulu 1 drie jaar lank probeer het. Ek kon dit net blerriewil nie regkry nie. Weet net nie hoe om al die woorde te onthou nie. Kan dit simply nie begryp nie. Ek dink ‘n kind het ‘n soort spesifieke opvangs- en dreineringsbrein om taal te leer. En namate hulle die taal regkry sypel die taalbrein weg. Of spoel dit uit. Of verdamp dit. Of…

Anyway. Zulu101 drie jaar in ‘n ry het my geskend tot in my wese. Tot nou toe. Maar nou gaan dit nie meer oor petrol ingooi of die volkslied sing nie. Hier gaan dit oor doodsake. Oor die reg om verstaan te word PRESIES SOOS MENS DIT BEDOEL. Die reg om nie meer DAARDIE LOOK te kry nie. Die reg om ‘n grappie te vertel wat mense verplig om te lag.

Doodsake hierdie Nederlands-leerdery. Miskien ontkiem ‘n opvangsbrein weer as mens ‘n magical phrase raaklees. Soos ‘n protea moet brand om voortteplant. En ek bet jou die moedswillige phrase sit op die heel laaste bladsy van die studiegids.